Tuesday, 19 February 2008

Nai hiruvalyë Valimar (vir D)

jy was nog altyd eksoties,
met jou siel so kenmerkend
soos die vars diep reuk van groentee.

hoe lank het ek jou nie beny nie,
my lewe skuins op jou eie gemeubeleur,
hartstogtelik die omvang van jou andersheid
soos 'n kleed om my laat val, beskermend.

ons was nog altyd op die oog af
onafskeidbaar : selfs na die skeiding
tussenbeide getree het, so onafwendbaar
soos die die weer op 'n klam somersmiddag.

miskien het ons te lank oor die heinings
van ons hygings en ambisies
die ander se siel bespeur, bekyk,
vir lekplekkies en gate
waardeur die wind treurend waai

Aai! Siel so glinsterend,waar het jy verdwaal?
waar het ek jou met my geskel verloor?
in watter diep dreunend woude
het jy jouself oorgegee aan hierdie wanhoop,
hierdie bitter alleenheid?

as ek jou net kon vind,
maar my sandale druis oor die duine,
en die dieper woestyn roep.

hier skei ons, vriend, hier skei ons.

mag ons paaie uitereinde Een word.